Frankweg 8, Die Wilgers, Pretoria
+128075229
hswilgers@hswilgers.co.za

TRADISIES

Hier is baie ryk tradisies wat deel van ons skool vorm, waar trots so erg binne jou brand dat dit daardie hoendervleis-oomblikke skep. 

Te midde van ons gefokusde kurrikulum en dinamiese buitemuurse program, koester ons elke Wilgie om te groei en te ontwikkel tot sy/haar eie potensiaal.

WILGIES

Vlaghysing:
Elke oggend moet die skool- en landsvlae gehys word en in die middag weer netjies gebêre word. Op Vrydaeoggende word die nasionale lied en skoollied gesing tydens die vlaghysing.

Saalkomitee:
Met gebruik van graad 8’s of VLR-lede moet die stoele voor elke saalbyeenkoms gepak word in korrekte verhoudinge.

Liedere:
Die skoollied, nasionale lied, “Pride of Wilgers” en graad 8-liedjie moet deur leerders gesing kan word na afloop van talle funksies.

GRAAD 8: STEGGIES

Die Uitvoerende Komitee en Matriekraad, tesame met die voogpersoneel, ontwikkel ‘n bekendstellingsprogram wat die “Steggies” sommer vinnig diep gewortel by Die Wilgers laat voel.

Groentjiekonsert:
Daar is elke jaar ‘n konsert waaraan alle “Steggies” moet deelneem. Dit is ‘n goeie geleentheid om hul selfvertroue op te bou, nuwe vriende te maak en iets te gee om op trots te wees. Na afloop van die groentjiekonsert word spesiale toekennings aan die “Steggies” uitgedeel soos bv. die oulikste gedrag, die pliggie, die passievolste, ens.

“Steggie”-inhuldiging en Klokseremonie:
Elke “Steggie” ontvang ‘n wortel tydens die klokseremonie. Hul vat ‘n hap en buk dan laag onderdeur die Wilgersklok. Dit dien as teken dat hulle nou volwaardige Wilgies is. In hul graad 12-jaar sal hul tydens die uittree-seremonie dié klok lui as teken van die einde van hul skoolloopbaan aan Hoërskool Die Wilgers.

Graad 8-kamp:
Die matriekraad neem die graad 8’s op ‘n kamp vir genot en spanbou.

Middelste trappe:
Geen graad 8 mag die middelste trappe gebruik tydens die hele jaar nie, ongeag die tyd van die dag. 

Graad 8-korvee:
Graad 8’s behoort die korvee van atletiekbyeenkomste te doen onder toesig van matriekraadlede.

MATRIEKS

Klokseremonie: Matrieks kry kans om op hul laaste skooldag regop onderdeur die klok te loop en dit te lui. Dit dien as afsluiting vir hul hoёrskoolloopbaan.

Pawiljoen:
Matrieks kry voorkeur om heelbo op die pawiljoene te sit. Graad 8’s moet tot laaste wag.

Saalopeninge:
Matrieks sit op die galery terwyl die res van die skool onder sit. Op die laaste skooldag draai die skool om en sing vir die matrieks die skoollied.

Boomplantdag:
Die matriekraad kry ‘n kans om ‘n boom op die skool se perseël as herdenking vir hul dienstydperk te plant.

Kleredrag:
Matrieks dra ‘n spesiale matriekdas en kan ‘n wit serp dra. Die matriekdogters dra witkouse. 

Matriekafskeid:
Na die rekordeksamen word matrieks genooi na ‘n deftige funksie waar hulle met nog deftiger motors opdaag.

SPORT

Bottermars:
Met atletiek interhoёr kry elke graadgroep ‘n kans om ‘n banier te maak met ‘n oulike tema daarop. Die graadgroepe mars dan om die atletiekbaan met hul baniere en sing liedjies saam tot hul gaan sit op die pawiljoen. 

Hop:
Na elke atletiekbyeenkoms en na afloop van die skoollied en die “Pride of Wilgers”- lied, begin die dirigente “hop” herhaardelik te sê. Leerders hop dan af van die pawiljoen en doen die hop dansie as afsluiting van die byeenkoms.

Matrieks teen die res:
In die derde kwartaal kan Graad 8-11 leerders hul name opskryf om ‘n res-span te vorm. Matrieks moet dan verdeel om teen die res spanne deel te neem in al die hoofsporte en moet verkieslik wen!

Geesvang:
Voor elke atletiekbyeenkoms oefen dirigente liedjies met die leerders en speel speletjies.

1ste span-wedstryde: Die leerders word versoek om soveel as moontlik te gaan ondersteun by eerstespan-wedtryde – so ook vir ander spanne van hul keuse.

SOSIAAL & KULTUUR

“Colourfest”:
Leerders koop gekleurde poeier en gooi mekaar daarmee. 

Waatlemoenfees:
Talle waatlemoene is beskikbaar om te koop. Leerders kan eet en gooi en doen net wat hulle wil met die waatlemoene. 

Lentefees:
Met die begin van Lente kan talle funksies gereёl word bv. ‘n Lentedans en stalletjies op Lentedag.

Kaskardag:
Elke jaar is daar ‘n Kaskardag waar klasse moet kompeteer vir die meeste rondtes wat gery is, asook meeste geld wat ingesamel word.

Valentynsbal:
Die graad 11’s reёl ‘n Valentynsbal as fondsinsameling.

Kultuurweek:
In die Tweede of Derde kwartaal word ‘n Kultuurweek gehou met talle aktiwiteite soos bv. Innie Kollig Talentaand, “quiz night”, dans ens.

Entrepreneursdag:
Die leerders wat besigheid as vak het, sal kans kry om een week ‘n stalletjie oop te maak. Bemarking is ’n groot kompetisie hier!

Mnr. en Mej. Wilgie:
Die graad 10’s reёl ‘n spogaand vir liefdadigheid.

Algemeen:
Elke matriekraadgroep behoort ‘n funksie te reёl wat uniek is. Ons het bv. Wiele Dag gereёl, waar klomp deftige karre uitgebeeld was met stalletjies om goed by te koop en ‘n karwas.